Thursday, November 25, 2010

Trojaanse Perde, Gawes van die Gees, ens.

Ek was nie seker waar om hierdie gedagtes te plaas nie, want dit kan sommige dierbare Christene moontlik baie seermaak. Maar ek het tog gevoel dit moet uit, ek moet dit net sê , al lees niemand dit ooit nie.

Hierdie kom nou al 'n lang pad waar ek begin wonder het of mense wat uit Teoglogiese fakulteite uitkom nog enigsins aan Jesus se bo-natuurlike fisiese opstanding glo. 'n Paar kundige en besorgde NG Kerk lidmate gaan eersdaags 'n boek, "Die Trojaanse perd in die NG Kerk" vrystel.

Na aanleiding van hierdie boek is daar 'n bespreking op OnsGeloofGesprek hieroor. Die kommentare daaronder is nogal insigewend en om eerlik te wees, kommerwekkend.

Indien my geloofservaring nou dieselfde was as 10 jaar gelede, sou ek waarskynlik 'n reuse geloofskrisis deurgegaan het. Wat maak 'n lidmaat van die kerk wat in Jesus glo, as hy uitvind sy predikant is eintlik agnosties of glo eintlik nie in die bo-natuurlike opstanding van Jesus uit die dood nie?

Wat my bekommer is hoeveel Christene in die kerk, is vandag waar ek 10 jaar gelede was? Watter effek gaan 'n boek soos hierdie op hulle hê? En verstaan my mooi, ek dink nie hierdie boek gaan die oorsaak wees dat mense hulle geloof in Jesus verloor nie, dit gaan bloot mense wakker maak dat hulle nie meer net dinge aanvaar nie en eerder vrae gaan begin vra. Om die waarheid te sê, glo ek, gaan hierdie boek dalk 'n hele klompie mense moontlik red.

Ek moet egter nog die boek lees (en bestel :-) ), maar ek het al werke van die skrywers gesien, en het 'n idee waaroor die boek gaan. Ek sien baie daarna uit, en aan die eenkant hoop ek die boek maak groot opslae, haal groot koerante se voorblaaie en verkoop miljoene kopieë . Bloot omdat ek hoop dat die kwessies op die tafel kom en hanteer word.

My lewe die laaste 10 jaar
Twee belangrike lyne van dinge het in my lewe gebeur oor die laaste twee jaar. Hierdie twee lyne is effens onverwand, maar die som van die twee aspekte, glo ek, is een rede hoekom ek nie deur 'n geloofskrisis gaan as gevolg van hierdie aspek nie. En daarom hoop ek dit kan lig bring vir iemand wat deur rowwe tye gaan ten opsigte van hulle geloof.

Daarom gaan ek hierdie twee aspekte hier noem en 'n balans probeer handhaaf tussen te veel inligting en te min inligting.

1. Young Earth Creationism and Christian Apologetics
Ek het 10 jaar gelede Dr. Hennie Mouton se boek "Evolusie - die onwetenskaplike leuen" gelees. Hierdie boek alleen het 'n reuse impak in my lewe gehad en 'n pad begin waar ek vandag geheel en al oortuig is dat die Bybel, sonder kompromie, 'n akkurate weergawe is van die geskiedenis van die Heelal, Aarde, die Mens en sy Verlosser, Jesus Christus. Ek het sederdien verskeie boeke van Dr. Hennie Mouton en ook ander Jong Aarde Skeppingsleerders gelees. Ook ander "Christian Apologitics" boeke soos Josh McDowell, wat 'n heeltemal ander aanslag het, maar baie akkuraat en effektief.

As ek terugdink, het die Skeppingsleer materiaal (boeke, web-blaaie, videos, podgooie / "podcasts") my 'n respek vir die Bybel as die akkurate Woord van God geleer. Soos ek meer en meer respek vir die Woord gekry het, het ek begin anders dink oor dinge. Het ek elke versie en skrifgedeelte begin ernstig opneem. Wanneer 'n skrifgedeelte nie lekker in my teologie gepas het nie, het ek meer en meer in die Woord begin soek oor daardie onderwerp.

Ek sal altyd dankbaar wees aan hierdie mense vir hulle werke wat my die vrymoedigheid gegee het om op die Woord te staan en om enige aspek te beredeneer vanuit die Woord, maar meer as dit, hulle was waarskynlik baie effektiewe instrumente in God se hand om my te red van die ewige dood.

2. Pinkster kerke en die Profetiese
Hoewel die eerste aspek, Skeppingsleer en "Apologetics", 'n baie belangrike rol gespeel het in my lewe, kan ek nie die volgende aspek uitlaat uit my geloofspaadjie nie. Ek besef ook terdee dat elke liewe mens se paadjie uniek is en dit sal verkeerd van my wees om te dink my paadjie is die beste of enigste manier om 'n verhouding met God te hê. Daarom wil ek dit duidelik maak, dat ek geen twyfel het dat my eie verhouding met ons Liefdevolle Vader, Wonderlike Redder en Dierbare Heilige Gees met spronge gegroei het nadat ek uit die Hervormde Kerk uit is nie. Dit ten spyt, het ek sederdien keer op keer mense in die Susterskerke gesien wat 'n diep verhouding met God het en 'n verhouding van integriteit en respek. Soveel keer het ek ook oppervlakkige gelowiges gesien in al die kerke waar ek betrokke was (dit was darem nie so baie kerke nie). Op 'n stadium was ek een van die oppervlakkiges en wie weet hoeveel meer eg en diepper verhouding die Vader nog uit my gaan uitsnoei.

Dit alles gesê, het ek meer en meer God se tasbare teenwoordigheid begin ervaar, meestal in Lewende Woord. Wanneer mens 'n Pastoor, Evangelis, ens. sien God se profetiese woord bring en sien hoe daardie woorde lewe in die stukkendste mense bring, kan daar geen twyfel by jou wees oor God se bestaan, Vader se Liefde en Jesus se Redding en glorie nie.

Dikwels tydens lofprysing en aanbidding sal Heilige Gees die wonderlikste openbaringe en visione bring. Soveel keer sien mens wonderwerke voor jou oë gebeur.

'n Hele klompie jare gelede het 'n nuwe wereld vir my oopgegaan toe ek "Dialogue with God" van Mark en Patti Virkler begin deurwerk het.

Verder, sedert ongeveer April 2009 is ek betrokke by 'n profetiese skool waar mense uit verskillende kerklike denominasies betrokke is. Waar ek nie net Bybelse waarhede oor die Gawes van die Gees (1 Kor.12 en 1 Kor 14) geleer het nie, maar ook toegerus word in die praktiese toepassing daarvan en lering ontvang van slaggate wat profete en persone uit die Bybel in getrap het. In hierdie tyd was ek amper op 'n weeklikse basis intens bewus van God se teenwoordigheid en werking in mense. My gebedslewe het nie net 'n lewendige dialoog met God geword nie, maar ook 'n tyd van openbaringe en visie. Ek het egter geen twyfel, dat ek nog bitter baie het om te leer nie.

Ironies het ek in hierdie tyd gereeld (soms nog steeds), betrokke gewees in debatte met Skeptici en Ateïste. Die arme mense probeer die slimste argumente uitdink en dink ek ly aan allerhande halusionerings en illusies. Meer as een keer is ek aanbeveel om 'n sielkundige te gaan sien. Dit is eintlik vrek snaaks, dog baie ernstig. Inderdaad het my betrokkenheid by Lewende Woord en Prophetic Investments, stadig maar seker 'n muur (van vuur?) om my geloof gebou.

Ten slotte
Aan die een kant is ek opgewonde oor die genoemde boek, hoofsaaklik omdat dit die waarheid oor die stand van sake in die kerk gaan openbaar. Maar aan die ander kant gaan my hart uit vir die mense wat in 'n geloofskrisis gedompel gaan word. My gebede is dat God hierdie krisis gaan gebruik dat mense Hom werklik gaan soek en leer ken en nie net gemaklik agteroor sit en dinge vanselfsprekend aanvaar nie.

Mag die Waarheid seevier.

ps. Dankie vir die geduldige lesers.